Quantcast
Channel: Afrikaanse Taalmuseum en -monument-portaal - LitNet
Viewing all 123 articles
Browse latest View live

Coenie en HemelBesem se nuwe vertoning “Oor een stem”

$
0
0

Kontemporêre musiekfundi Coenie de Villiers en Afrikaans se eie hip-hop-ster HemelBesem op een verhoog? Maar hulle verskil dan wêrelde van mekaar! Dít mag dalk sommige mense se reaksie wees op die samekoms van dié twee bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars vir hulle splinternuwe vertoning “Oor een stem” by ’n piekniekkonsert by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op Saterdag 18 Maart 2017.

Coenie en Hemelbesem het egter al aan verskeie projekte saamgewerk en het groot respek vir mekaar se talent en kuns. “Oor een stem” belowe om die gehoor op ’n reis te neem deur hulle (nie so verskillende) lewens, liefdes en passies. Coenie het onlangs sy twintigste album, “Emoji”, uitgegee. HemelBesem is bekend vir sy gewilde teaterproduksie “Die Afrikaansvatter” en het pas sy eerste boek, God praat Afrikaans, uitgebring. Die rymkletser YOMA, oorspronklik van George, sal by hulle op die verhoog aansluit.

Die vertoning begin om 19:30 in die Tuinteater op die grasperk reg aan die voet van die monument. Die hekke open reeds om 17:00. Besoekers is welkom om hul eie drankies en piekniekmandjie saam te bring of een (teen R250 vir twee persone of R350 met ’n mandjie ingesluit) by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel 021 863 2800). Volksmond sal oop wees vir koffie, ligte verversings, wyn en bier.

Kaartjies is vooraf te koop by Computicket en by die Taalmonument, asook by die hek, teen R100 vir volwassenes en R50 vir studente en kinders. Stoele word slegs met vooraftoestemming toegelaat en rook word slegs in rookareas toegelaat (nie op die grasperk nie). Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar.

Dié konsert vorm deel van die Tuinteater Piekniekkonsertreeks ten bate van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se Laat ons Lees!-projek vir kinders. Die laaste konsert in die reeks is Die Heuwels Fantasties op 31 Maart 2017. Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

The post Coenie en HemelBesem se nuwe vertoning “Oor een stem” appeared first on LitNet.


Wellingtonse gemeenskapsleiers voer oop gesprek oor taal en identiteit

$
0
0

Op ’n geleentheid die afgelope Saterdag op Wellington was sowel menseregte as moedertaalonderrig op die voorgrond tydens ’n bespreking oor taal en identiteit.

Die gesellige gesprek in Die Bôrdienghuis van die Breytenbach-sentrum was vir die bekendstelling van Ons kom van vêr, waarin ’n hele aantal skrywers die ontwikkeling van  verskillende soorte Afrikaans en ondervindings met Afrikaans teen die agtergrond van die geskiedenis bekyk. Die redakteurs is Wannie Carstens en Michael le Cordeur.

Wannie Carstens en Michael le Cordeur

(Lees Frank Hendricks se gesprek met Le Cordeur hier en Charlyn Dyers se gesprek met Carstens hier oor dié boek, wat tans wyd belangstelling geniet.)

Die oggend het lede van die Ghoemas-benoemde Die Jaloersbokkies, Nedine Blom en Jawaahier Petersen saam met Ashur Petersen musiek gemaak en die Wellingtonse Klopsegroep die Caledonian Roses, onder leiding van Jovanre Cupido, het ook opgetree. Gaireyah Fredericks het gedigte voorgedra: “Kaaps is Hollands” en een oor Adam Small wat by die boek ingesluit is.

Die Jaloersbokkies (Nedine Blom en Jawaahier Petersen) saam met Ashur Petersen

Die Caledonian Roses

Gaireyah Fredericks

Terselfdertyd was dit ’n geleentheid vir mense van die ou en nuwe Wellington om daadwerklik gesprek te voer oor toe én nou, oor hoe om mekaar te help anders maak, om Breyten Breytenbach se ideaal met die sentrum te verwesenlik.

In die gesprek het gemeenskapsleiers en rolmodelle taal en identiteit aan veral eie ervaring gemeet. Dit kom ook in hul bydraes in Ons kom van vêr aan bod.

Die oudburgemeester Herman Bailey, iemand wat ’n lang loopbaan in plaaslike regering gehad het; die Stigting van Bemagtiging deur Afrikaans se Marlene le Roux, wat ook hoof van die Kunstekaap is; Edwena Goff, ’n kerkleier en voormalige Mej Afrika Suid; die onderwyskundige Patrick Mettler; en Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, moderator van die Verenigde Gereformeerde Kerk, het met die Afrikaanse skrywer Braam de Vries gesels.

De Vries het ter inleiding verwys na die groeiende verwysings in byvoorbeeld die Nederlandse pers juis oor die verhouding tussen taal en identiteit. Hy het ’n voorstander van Fries aangehaal wat aandring op ’n sterk en ope Friese identiteit in die opvoeding, onderwys en media, asook optrede wat ’n positiewe beeldvorming tot gevolg sal hê. Wie nalaat om dit te doen, gee die beeldvorming oor aan ander, met gevaarlike gevolge. “Vir identiteit moet jy wel hard werk, maar dan het jy wel deeglik iets om op trots te wees,” het hy uit die berig aangehaal.

Vir die doeleindes van die gesprek het hy gevra dat die paneellede enkele stellings aanvaar: eerstens, dat Willa Boezak gelyk het as hy skryf dat taal ’n belangrike onderdeel is van identiteit en kultuur, ook in terme van spiritualiteit. “Ek vermoed al lank – maar u hoef nie met my saam te stem nie – dat taal een van die sterkste en blywendste merkers is van identiteit. Ons taal is ’n manier van wees, van hoe en wat ons is.

“Tweedens; dat ons aanvaar, en daarvoor staan ek in, dat wie hierdie boek (Ons kom van vêr) nog nie gelees het nie, min kennis het van die verwikkelde, soms tragiese, pynlike, hartseer verhaal van die rol van Afrikaans van ver af tot hede.”

In die afdeling “Lied en Land” in Jan Rabie se roman Ons die afgod bewoord hy die tale-ideaal van Afrikaans se plek tussen al die ander tale van ons land soos volg: “En hoe sing jy jou lied tussen vyf, ses andersoortige stemme?” En die antwoord is: “Ons sal trots ’n klein instrument in ’n groot orkes moet wees.”

“Jan was een van ons grootste taalpatriotte en, daarom, een van die kwaaiste teenstanders van apartheid,” het De Vries gesê. “Maar Jan, en eintlik ons almal, se idealisme en die romantiek in die Mandela-periode, het ons iets laat miskyk: die broederskap tussen ’n sogenaamde groot taal en mag. Die ‘groot orkes’ van Afrika-tale het in die magspel van politici weinig meer as nog ’n paar pionne vir misbruik geword.”

Vir Plaatjies-Van Huffel, dosent in kerkgeskiedenis en kerkreg aan Maties, is taal en identiteit ten nouste verbind. Oor moedertaal, onderrig en kultuur haal sy Richard van der Ross aan: jy kan nie daarvan dink of droom om ’n kind skool toe te stuur sonder moedertaalonderrig nie. “Dis onlosmaaklik verbonde aan jou identiteitsvorming.” Vir haar gaan dit daaroor dat identiteit gevorm word primêr deur die taal wat dit eintlik oordra.

Sy het vertel van die NG Sendingkerk, ’n Nederlandse kerk, wat in 1881 op Wellington gestig is. “In 1925 het die parlement Afrikaans goedgekeur as voertaal – maar in 1924 het dié Kerk alreeds op hulle sinode gesê nou van af wil ons graag Afrikaans hê ... Ons wil nie net die Bybel in Afrikaans lees nie, maar ook reekse uit die buiteland wat in Engels gepubliseer is in Afrikaans laat publiseer.”

Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, aan die woord.

Mettler, voorheen onder andere interne moderator vir wiskunde vir die nasionale departement, onthou in die vorige bedeling was daar in een stadium sewe amptelike kategorieë vir “bruin mense”: onder meer Kaapse Kleurling, Maleier, Griekwa, Chinees, Indiër en ander kleurling. “Intussen het nog name bygekom, soos anderskleuriges, en ek hoor ’n minister het nou die dag gepraat van ‘generic blacks’. So ons is nou ‘generics’ ook! Op ’n kol was ons al ‘sogenaamdes’ ook gewees.

“Daar is egter twee name wat om die een of ander rede ontbreek. Die een het betrekking op taal. Ek het die statistiek oor Afrikaanstaliges nagegaan. Dis 50% bruin mense en minder as 40% is blankes. Dit het die 2011-statistiek gewys. Maar ten spyte van ons Afrikaansheid mag ons nie Afrikaners genoem word nie. En ten spyte van die feit dat ons in Afrika gebore is, is ons nie Africans nie. Nou wat is die boodskap? Wat wil ons probeer sê met die klomp name? Ons is veelnamig, ons is die ‘anders as’-mense. Ek worstel met hierdie hele kwessie van identiteit en bruin identiteit, want dit klink asof dit taamlik sensitief is en ’n mens kry die gevoel dat as jy praat van bruin identiteit dan klink dit asof ons teruggaan na waar ons wás, maar dis darem net een naam teen daardie 15. Dis nog steeds vir my ’n probleem. Ek het gehoop dat met ’94, met die demokratisering, daar twee name sou oorbly: mens en Suid-Afrikaner.”

Die kwessie van name het De Vries laat dink aan die ou wie se buurman se hond hom wakker gehou het. “Toe sê sy vrou: ‘Gaan haal die hond dat hy hier by ons bly, dan blaf hy die buurman wakker!’ Ek wil dus voorstel dat u uself ’n Afrikaner noem as u wil en die probleem iets vir die ander ouens maak.” Adam Small het destyds Die eerste steen? aan “my mense, die Afrikaner” opgedra.

Oor wat op tersiêre vlak gebeur, vestig Mettler sy hoop op “billikheid” in die “mobilisering en geveg om Afrikaans in tersiêre instansies”, en lig dit soos volg toe: “Ons moet ook billikheidshalwe dink aan die regte van Xhosa en Zoeloe. Wat ons vir onsself wil hê, moet ons vir ander mense ook gun.”

Edwena Goff aan die woord.

Taal en identiteit is vir Goff onskeibaar. Tevore was hierdie skoonheidskoningin onder andere Jakes Gerwel se persoonlike assistent by die Universiteit van Wes-Kaapland, later hoof van kommunikasie aan die Skiereilandse Technikon onder Franklin Sonn, en ’n sakevrou. Sy is tans in die bediening in die Bay CFC-gemeente.

“Iets wat nie die aandag kry wat dit móét kry nie, is die gevolg van miskenning, naamlik selfontkenning,” het sy gesê. As voorbeeld het sy verwys na iemand wat haar op ’n lughawe herken en haar as Mej Afrika Suid gegroet het. Haar kinders, tóé nog op laerskool, het na haar gekyk en gevra waaroor dit gaan. “In daardie stadium het ek nog nooit my kinders werklik vertel van die storie van Mej Afrika Suid nie, want dit was nie vir my iets wat ek wou vier nie. En ons móét ons oorwinnings vier.

“Wat bring ons vanoggend bymekaar? Ons taal en die identiteit wat ons vind in ons taal. Vir my, wanneer dit kom by my taal, is ek deel van ’n nierassige volk, nie ’n veelrassige volk nie.”

Volgens Le Roux is “taal etnies georiënteer, want jy word in ’n gemeenskap in gebore”. “As mense nie kaalkop die waarheid gaan praat nie, gaan ons nie vorentoe beweeg nie, want die seer is diep,” het sy gesê. “Die eerste stappie wat ons moet doen, is om die storie te skryf. Ons kan ook nie identiteit en rassisme skei nie, want ons kom uit ’n sekere konteks uit. As ons nie eers ons rassisme in Afrikaans begin aanpak nie, dan gaan ons ook nie verder beweeg nie.”

Marlene le Roux aan die woord.

Sy benadruk dat ongemak deel van die gesprek moet vorm. “Hoekom recycle ons? Ons wil goed voel, ons hou vas aan dinge soos dit was. Daar is egter ander mense ook wat moet blootstelling kry. Ons moet kyk na ons nuwe rolmodelle.” Sy het gesê gesprekke met die kerk is nodig. Hoekom staan hier op Wellington twee kerke vlak langs mekaar? “Ons wil klein bietjies afgee, maar ons wil nie groot dinge aanraak nie. Ons moet begin dink aan ’n gedeelde identiteit.” 

Iets wat haar hartseer maak, is armoede en Afrikaans. “Dis diep. En ons het tans ’n generasie van bruin kinders wat voel hulle weet nie eintlik waar hulle inpas nie. Dis die waarheid in ons gemeenskap. Wie se kultuurtaal beoefen ons nog by sekere skole? Dit is goed waaroor ons hardop moet begin praat by beheerliggame en kyk na hoe ons die inskakeling en identiteit kan bevorder. Taal en identiteit kan nie net op ’n hoër vlak fungeer nie. Die debat kan nie net daar wees nie, anders verloor ons ons volgende generasie.”

Herman Bailey aan die woord.

Die belewing van groot en klein apartheid het ook aan bod gekom in Bailey se herinneringe aan sy bykans 18 jaar in plaaslike regering, iets wat hy nogtans as “’n baie lang en interessante pad” beskou.

Toe hy destyds by die munisipaliteit begin werk het, het hy op ’n dag sy geboortesertifikaat by die landdroskantoor gaan kry. Valiant Swart se ma was die klerk en hy het haar goed geken. Sy deel hom toe mee op sy sertifikaat is hy as “gemeng” geklassifiseer. “Ek staan by daai toonbank maar ek dog ek kom iets oor. Toe wou ek vra: Kan ek kies of ek wit of bruin wil wees? Dalk 50/50? Hoewel dit seer maak, het ek gesê skryf maar eerder ‘kleurling’ op die sertifikaat, want ek wil nie ‘gemeng’ deur die lewe gaan nie.”

In 1990 is hul vierde seun gebore. “Ek het gewerk met die aanname die wette gaan seker maar afgeskaf word. Waar daar op sy geboortesertifikaat staan ‘ras’ het ek ingevul: ‘Suid-Afrikaanse burger’. Nou is die spottery by die huis drie van die kinders is kleurling en die vierde is die enigste wat ’n Suid-Afrikaanse burger is!

“Ons het so arm grootgeword daar was nie geld vir studies nie, toe moes ek darem iets gaan soek wat vir my ’n loopbaan sou gee. In daardie tyd maak Pentech oop en gee opleiding in openbare gesondheid en dis toe dat ek in die gesondheidsveld beland het. Dit plaas jou onmiddellik in plaaslike regering en dit was die begin van my plaaslike-regering-loopbaan. Eers as gesondheidsinspekteur op Wellington. Toe ek die eerste oggend inkom, sê die hoof vir my: ‘Baie welkom hierso by ons. Ons drink soggens bietjie tee voordat ons begin werk – wil jy tog nie môreoggend vir jou ’n koppie en ’n piering saambring nie. Jy kan nie ons s’n deel nie.’ Die tweede ding was: daar is openbare toilette in die stadsaal net oorkant die pad en hy sal reël dat die sydeur oop is, want ek kan nie hulle s’n gebruik nie. ‘En hulle het nou nie eintlik vir jou ’n kantoor nie, maar hier is so ’n gang, ons gaan ’n houtblad daar teen die muur sit, dan is dit jou kantoor.’ En die vierde ding is toe hulle ’n voertuig gaan koop. Al die ander gesondheidsinspekteurs het met bakkies en karre gery. Ek het ’n scooter gekry.

“Dit was my bekendstelling aan plaaslike regering gewees. Ek het net besluit dit gaan my nie afsit nie. Ons was die eerste groep bruin gesondheidsinspekteurs wat opgelei is, so ons moes vir ander ’n pad oopmaak.

“In daardie tyd kom die regering toe met bestuurskomitees vir bruin mense. Ek het ’n geweldige worsteling deurgegaan. Ek sit met kennis van plaaslike regering; ek het geen ander plek om my uit te leef nie, want ons kon nog nie stadsraadslede word nie, maar hier is nou ’n geleentheid. Ek besluit toe om my kiesbaar te stel. Al is dit nou ’n apartheidstruktuur. Vir 17 en ’n halwe jaar het ek gesit in daardie apartheidstruktuur. Ons het dit later so onder protes gedoen dat ons later opgeneem is in die raad, onwettig. Ek onthou dat die sekretaris van die raad gesê het hy gaan elke maand notule skryf asof ons ’n vergadering gehad het. Dan stuur hy so ’n notule uit. Dis alles voor 1994.

“By geleentheid het ons ’n  protesnota aan die raad gegee en gesê dat ons die swembad in Pentzstraat wil ophef vir alle bevolkingsgroepe.

“In 1956, die jaar voordat ek skool toe is, loop ek en antie Magrieta winkel toe en soos ons stap, is die bouery aan ’n swembad aan die gang, en ek hoor net sy skree vir haar neef aan die oorkant van die straat: ‘O, jy bou ook ’n swembad vir de Boere.’ Nou sy het van politiek niks geweet nie, maar sy het geweet hier is ’n stuk onregverdigheid.

“Die aand van my voorlegging by die raad toe begin ek met daardie storie. En hier kom ons met die versoek – nie ’n eis nie – dat die swembad oopgestel word. Die volgende dag toe loop die protesbriewe in die wit gemeenskap. Later kondig die burgemeester toe aan dat ná onderhandelinge met die provinsie word R1,4 miljoen beskikbaar gemaak vir ’n swembad vir die bruin gemeenskap in Bloekomlaan. Dis nie wat ons wou hê nie. Ons gaan koukus op die stadsraad se stoep en ons sê ons aanvaar dit onder protes, wetende die wette gaan eindelik almal afgeskaf word. ’94 kom en die swembad word oopgestel. Nou het ons twee swembaddens in die dorp, almal kan gaan waar hulle wil en as jy vandag vir die bruin kinders vra waar gaan swem hulle, sê hulle vandag nog hulle gaan na die Boerebaddens toe.

“In 1993 raak ek betrokke by die afbakeningsraad vir die optrek van die munisipale grense vir die ’94-verkiesing. Toe kom die ’94/’95-verkiesing. In Wellington het ons ’n baie interessante pad geloop: ons gemeenskap het gesê ons is nie gereed vir die NP nie – ons wil nie deel wees daarvan nie; ons was ook nie gereed, na ons oordeel, vir die ANC nie. Daar was niks anders nie. Toe skep ons ’n gemeenskapstruktuur en ons wen die verkiesing en ek word toe burgemeester vir vyf jaar agtereenvolgens. Toe kon jy werk aan al die goed wat jou al vir jare gepla het. Ons het baie suksesse behaal.” Hy was in ’n stadium burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit óók.

Bailey se pa was ’n Karooman en sy ma kom uit die Boland, van die plaas Provence, en hulle het in Afrikaans grootgeword. “Ek het al baie boeregroepe gaan toespreek en nog voordat ek dankie kan sê, dan sê hulle vir my: ‘Pragtige Afrikaans.’ Dan sê ek: ‘Ek ken eintlik niks anders nie, dis hoe my ma my grootgemaak het.’ So asof ek dit nou nie moes bemeester het nie.

“Ek dink wat hierdie boek bereik het, is om ons stories in mooi Afrikaans te skryf, maar tog het dit ’n stuk geskiedenis neergepen wat verlore sou gegaan het. En daarom dink ek dat hierdie die bereiking was van ’n baie, baie mooi ideaal. Ek het nooit aan my stuk as akademiese stuk benader nie, maar dis goed dat dit op daardie vlak gebruik is.”

Die geleentheid is aangebied deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Wellington Museum en die Breytenbach Sentrum ter gesamentlike viering van Internasionale Moedertaaldag en Menseregtedag. Foto's verskaf deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

The post Wellingtonse gemeenskapsleiers voer oop gesprek oor taal en identiteit appeared first on LitNet.

ATM vier Menseregtedag met HemelBesem, YOMA en Coenie de Villiers

$
0
0

Die Afrikaanse Taalmonument en -museum het Saterdag Menseregtedag gevier met HemelBesem, YOMA en Coenie de Villiers se Oor een stem-piekniekkonsert by die Taalmonument se tuinteater.  Die konsert is voorafgegaan deur ’n skemerkelkie waartydens Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, vertel het van die werksaamhede en vooruitsigte van die ATM. Lees sy toespraak hieronder.

Kultuur, natuur, plesier-skemerkelkie

Die Afrikaanse Taalmonument
Foto: Izak de Vries

Danie van Wyk en Michael Jonas
Foto: Izak de Vries

Coenie de Villiers en Simon Witbooi aka HemelBesem
Foto: Izak de Vries

Michael Jonas en Isabeau Botha. Die ATM het aan die besoekers spekboomsteggies gegee, met die boodskap om Afrikaans te laat groei.
Foto: Izak de Vries

Conrad Steenkamp, Amelia Burger en Elizabeth de Villiers
Foto: Izak de Vries

   Oor een stem-piekniekkonsert

Coenie de Villiers
Foto: Izak de Vries

Video: HemelBesem rap "Gee en kry".

HemelBesem en YOMA
Foto: Izak de Vries

HemelBesem en YOMA
Foto: Izak de Vries

Die gehoor sit vasgenael.
Foto: Naomi Bruwer

Coenie de Villiers
Foto: Izak de Vries

HemelBesem
Foto: Naomi Bruwer

HemelBesem en YOMA
Foto: Naomi Bruwer

YOMA
Foto: Naomi Bruwer

YOMA
Foto: Naomi Bruwer

Coenie de Villiers, YOMA en HemelBesem
Foto: Izak de Vries

Foto: Izak de Vries

Toespraak

Michael Jonas
Foto: Naomi Bruwer

’n Toespraak gelewer deur Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, tydens ’n skemerkelkie by die Afrikaanse Taalmonument op 18 Maart 2017.

Dit is inderdaad ’n groot voorreg om die geleentheid gegun te word om aan u ’n verslag voor te hou rakende die prestasies en uitdagings van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) oor die afgelope boekjaar, asook die vooruitsigte vir die 2017/2018-boekjaar.

Die ATM se waardes en verhoudings met stigterslede, huidige en toekomstige gebruikers, skenkers, befondsers, insethouers en strategiese vennote is gedurende die 2016/2017-boekjaar volhoubaar bestuur. Dít is moontlik gemaak deur die implementering van ons kommunikasiestrategie wat grotendeels gefokus het op die aanbied van openbare programme, wat opvoedkundige programme, spesiale geleenthede en uitreikprojekte insluit.

Die volgende programme verdien spesiale vermelding:

  • Ons Jeugdagviering ter herdenking van 16 Junie 1976
  • Die tweede Ommietafel-gesprek (ter viering van Taaldag) in samewerking met die Vriende van Afrikaans, met die tema “In watter taal maak ek my kind groot?”
  • ’n Taaldagviering in samewerking met die Wynland Dameskring
  • Die opening van die Eugène Marais-uitstalling in die Groen Galery van die Taalmonument, in vennootskap met die Eugène Marais Stigting en die Breytenbach Sentrum
  • Ons Neville Alexander-gesprek, met die tema “Kaaps as moontlike lewensaar vir die voortbestaan van Afrikaans”, met Ivor Price as gespreksleier, asook die tweede Neville Alexander-prestige-eerbewys, toegeken aan Elizabeth Dennise van Schalkwyk, Susan Smith en die Woorde Open Wêrelde- (WOW-) projek van die Universiteit Stellenbosch Woordfees
  • Ons herdenking van die vrystelling van die slawe / Versoeningsdag, met Dan Sleigh as gasspreker
  • Verskeie opvoedkundige programme aangebied in samewerking met Paarl Museum, opvoedkundige instellings en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement
  • Ons jaarlikse Skerpskryf-kompetisie vir leerders in samewerking met die Hugenote Gedenkskool
  • Ons Internasionale Moedertaaldag-viering met ’n gesprek oor die tema “Taal en identiteit” en die bekendstelling van die boek Ons kon van vêr waarvan Michael le Cordeur en Wannie Carstens die redakteurs is
  • Drie Amfiteater-konserte, naamlik die ATKV-Rieldanskompetisie, Spar tussen die Sterre en die Cape Town Summer Fest
  • Ons piekniekreeks, waaronder ons Volmaan- en Sterrekykpieknieks, wat uiters gewild is – rekordgetalle besoekers is by al die pieknieks ontvang.

Die ATM het reeds in die 2015/2016-boekjaar ’n rekordgetal besoekers bereik en verwag om in die huidige jaar, wat in Maart ten einde loop, ’n nuwe rekord van meer as 80 000 besoekers te kan behaal.

Uitdagings

Die ATM moet geweldige uitdagings die hoof bied, waaronder:

  • Die betaling van eksterne ouditeursfooie
  • Aandag aan bevindings in die ouditeur-generaal se 2016/2017-verslag, die wetlike nakoming van finansiële en tesourie-riglyne en die implementering van die staat se verkrygingsbeleidsisteme en -prosedures
  • Eksterne kompetisie.

Danksy ’n ondersteunende raad, toegewyde personeel, strategiese vennootskappe en lojale ondersteuners het ons 80% van die teikens in ons 2016/2017-Prestasieplan behaal. Ons is trots op ons goedopgeleide span wat hul vir een gemeenskaplike doel beywer.

Dit bring my by ons beplanning vir 2017/2018 en hoe volhoubare strategiese vennootskappe en werksaamhede tot voordeel van ons gemeenskappe bestuur en benut kan word. Volhoubaarheidsontwikkeling verskaf moontlike konseptuele verwysingspunte en word verbind met opvoeding, ekonomie, besigheid, reis, ontspanning en die gemeenskap. Die vraag is dus: Hoe is volhoubaarheid van toepassing op ons werksaamhede en vennootskappe en hoe kan ons kan baat vind by dié benadering?

In 2017/2018 sal die ATM:

  • Fokus op die skep van besoekerservarings wat die basis kan vorm vir die bevordering van interkulturele kommunikasie en begrip vir die “Ander”. Voorts wil ons gesprekvoering/debat oor kulturele diversiteit stimuleer.
  • Dink aan versamelings/uitstallings as ekosisteme of habitatte wat bestuur, ontwikkel, uitgebrei en soms teruggesnoei moet word. Uitstallings moet konteks verskaf, inligting ontsluit en mense prikkel om merkwaardige artefakte of literatuur in ons kultuurlewe te verken. In die uitbouing van ons bestaande versameling moet ’n groter poging aangewend word vir die herkenning en insluiting van die ryk erfenis en inheemsekennisstelsels van alle Afrikaanssprekendes. Die ATM poog om prosesse te fasiliteer of vennootskappe te vorm vir die versameling en bewaring van Afrikaanse gemeenskappe se voorwerpe, lewende erfenis en kultuurele gebruike in situ.
  • Bydraes lewer tot die ontwikkeling van menslike vermoëns, opvoeding, nasiebou en die skep van ’n Suid-Afrikaanse identiteit. Deur gesprekvoering en marknavorsing moet die werklike behoeftes en vrese van die Afrikaanssprekende gemeenskap in die breë vasgestel word.
  • In ons rol as kulturele fasiliteerder, sonder om ons mandate en kernfunksies te verander, ’n wesenlike bydrae lewer in die daarstelling van ’n volhoubare samelewing. ’n Belangrike aspek van volhoubaarheid is sosiale aanspreeklikheid. Met vennootskappe kan ons uitgeputte sosiale en menslike kapitaal herwin / laat herleef in ons pogings om die samelewing te verbeter.

In die toekomsbeplanning vir die ATM moet daar na volhoubaarheid in terme van die interafhanklikheid van die omgewing, ekonomie en die gemeenskap gekyk word.

Ekonomiese volhoubaarheid: Befondsing

’n Volhoubare toekoms kan verseker word deur die diversifisering van die oorsprong van ons befondsing deur afhanklikheid van staatsbefondsing te beperk en na ander alternatiewe te kyk. Die doeltreffende en effektiewe aanwending van menslike, natuurlike en finansiële hulpbronne moet die kernbeweegrede agter alle besluitnemingprosesse wees.

Voorts sien ek ’n instelling wat strewe na volhoubare rapportering – nie net op ekonomiese resultate (basislyn) nie, maar op trippelbasislyn – wat die sosiale, omgewings- én ekonomiese impak van die werksaamhede insluit. Volhoubaarheid kan ekonomiese doelwitte komplementeer en ’n balans moet dus tussen die ekonomiese doelwitte, die omgewing en samelewingsteikens geskep word.

Volhoubare strategiese vennootskappe

Dit bring my by die volgende element van my toekomvisie vir die ATM: volhoubare strategiese alliansies, netwerke en vennootskappe. Bestaande strategiese samewerking met bestaande instellings sal behou en onderhou word en pogings sal aangewend word om dit na ander potensiële vennote uit te brei. Die ATM se tema en mandaat laat die skep van netwerke op groter skaal toe.

Volhoubare kommunikasie, uitstallings en openbare programme

Kritiek tot volhoubaarheid en die vooruitgang van die ATM is ’n goedgefokuste kommunikasiestrategie: vir interne kommunikasie, eksterne kommunikasie én baie luister. Die omvang van die ATM se mandaat is baie wyd en sy gebruikers en insethouers is divers.

In die daarstelling van openbare programme, wat uitstallings, opvoedkundige programme en ander aktiwiteite insluit, sal ’n demokratiese proses plaasvind rakende die kuratoriese invloed, ontwerp en inhoud wat deurgegee word aan die publiek. Gebruikers moet betrek word by die verskaffing van idees en die bou van inligting/kennis en nie net gesien word as passiewe ontvangers/deelnemers nie.

’n Omvattende kommunikasiestrategie sal voorsiening maak vir groter toegang ten opsigte van:

  • Bekostigbare toegang vir behoeftige gebruikers, waaronder senior burgers, skole en niewinsgewende instellings
  • Toegang tot dienste en ervarings vir gebruikers buite die fisiese strukture van die ATM en groter sigbaarheid in ander provinsies, onder andere deur uitreikprogramme en -aktiwiteite, satelliet- en reisende uitstallings en die verskaffing van vervoer
  • Toegang vir besoekers met spesiale behoeftes (met fisiese, sig-, hoor- en/of intellektuele gestremdhede).

Teikens en doelwitte

Die ATM se teikens en doelwitte vir die 2017/2018-boekjaar is vervat in ons Prestasieplan en Aktiwiteitskalender, wat verseker dat daar strukture en stelsels vir die lewering van museumdienste sal bestaan. Alle werksaamhede van die ATM sal volgens die waardes van professionalisme, bekwaamheid, integriteit, verantwoordbaarheid en deursigtigheid geskied. Hierdie volhoubare dienste moet waarde toevoeg tot die samelewing in die hede en ook konstante behoeftes aan verandering in ag neem. Ons sien uit na die uitdagings en suksesse van die toekoms.

Vir meer inligting, besoek gerus die ATM se webwerf by www.taalmuseum.co.za of www.taalmonument.co.za, waar u onder andere op ’n e-nuusbrief kan inteken.

Die ATM op sosiale media:

www.facebook.com/afrikaansetaalmonument
www.twitter.com/taalmonument
www.instagram.com/taalmonument.

The post ATM vier Menseregtedag met HemelBesem, YOMA en Coenie de Villiers appeared first on LitNet.

Dis jou koesister en my koeksister

$
0
0

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), die ATKV en LAPA Uitgewers het op Saterdag 20 Mei 2017 gesamentlik Internasionale Museumdag gevier met ’n spesiale byeenkoms in die Paarl.

Michael Jonas, die direkteur van die ATM, het vertel Museumdag word jaarliks, wêreldwyd, op of rondom 18 Mei gevier sedert dit in 1977 deur die Internasionale Komitee van Museums ingestel is. “Die doel daarvan is om mense bewus te maak van die belangrike rol wat museums in die samelewing speel. Vanjaar se tema is ‘Museums en omstrede geskiedenisse: sê die onsêbare in museums.’ Ons viering sal fokus op die Afrikaanse gemeenskap se koserfenis – ons het nie almal dieselfde tradisies nie, maar wel baie gedeelde erfenisse wat voorheen soms misken is en wat ons nou kan omarm.”

Chantelle de Kock, kurator van die Taalmuseum, het die gaste vertel van die eerste Afrikaanse kookboek, wat geskryf is deur 'n Engelse vrou, Elizabeth Jane Eckley. Sy was met ’n Nederlander, Jan Hendrik Dijkman, getroud. Hulle van is later as Dykman geskryf. So het dit gekom dat JE Dykman die skrywer van die eerste Afrikaanse kookboek was.

Willem Botha van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het oor die herkoms van die woorde koeksister en koesister gesels. Beide woorde is reeds in 1960 in die WAT opgeneem, maar dit was mans wat aan die stuur van die WAT was en hulle het nie mooi verstaan dat daar ’n verskil is tussen die sagte koesister, wat in klapper gerol word, en die harde, gevlegte koeksister nie. Die oorspronklike inskrywing meng die twee resepte dus.

Dié inskrywing sal nou reggestel word, aangesien woordeboeke deesdae elektronies gemaak word.

Drie bobaasbakkers het toe oor die onderwerp “Dis my koeksister en jou koesister” gesels. Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, van Bonteheuwel in die Kaap, het bekendheid verwerf met die deel van hul resepte op RSG. Hulle het reeds twee kookboeke uitgegee en het hul eie kookprogram, Flori en Koelsoem se kosse, op televisie. Die derde deelnemer was Gonny du Plessis, voorsitter van die Suider-Paarl-tak van die Vroue Landbouvereniging (VLV). Sy is al amper 40 jaar by die VLV betrokke.

Shireen Crotz, van die US Woordfees se WOW, was die gesprekleier.

Die gevlegte koeksister word van ’n stywe deeg gemaak wat in olie gebak word en dan in yskoue stroop gegooi word. Die koesister met die klapper word in olie gebak en dan in warm stroop gegooi voor dit met klapper bestrooi word.

Koelsoem Kamalie het vertel dat sy as jong meisie al geleer het hoe om koesisters te bak. Omdat hulle arm grootgeword het, is die koesisters toentertyd van aartappels gemaak – ’n resep wat sy steeds vandag gebruik.

Gonny du Plessis van die VLV het vertel dat sy in ’n Nederlandse huis met oliebolle grootgeword het. Sy het later eers geleer hoe om die gevlegte koeksisters te maak.

Flori Schrikker het in Brooklyn grootgeword en daar het sy by 'n Boeretannie geleer hoe om gevlegte koeksisters te bak. Sy het egter as jong meisie ook geleer hoe om die geklapperde koesister te bak.

Flori en Gonny het saamgestem: suurlemoenskil moet in die deeg en die stroop kom; dit maak jou koeksisters bobaas.

Sal die lekkernye voortleef? Die paneel dink wel so. VLV het programme om jongmense te leer hoe om die baktradisies voort te sit, en boeke soos Kook saam Kaaps en Soettand sal maak dat die Kaapse kookkuns nie sommer vergeet sal word nie.

Die rieldansgroep die Betjies van Betjiesfontein het voor en ná die tyd almal vermaak met hulle passies. Die jongmense het ook die gehoor betrek; hulle was ware ambassadeurs vir die riel.

Ná hulle optrede by die Taalmuseum moes die Betjies nog deurry na Worcester; die ATKV se streekuitdunne vir die rieldans het daar plaasgevind.

The post Dis jou koesister en my koeksister appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Rymklets met Jitsvinger op Jeugdag

$
0
0

Die gewilde rymkletser Jitsvinger kom toor met woorde by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Jeugdag-viering op 16 Junie 2017 by Klein Nederburg Sekondêre Skool in die Paarl.

Jitsvinger is die gasspreker en sal ook ’n kort werkswinkel oor rymklets in Afrikaans aanbied.  Die gratis program vind van 10:00 tot 12:00 plaas. Dit sluit ook ’n optrede in deur die plaaslike rymkletsgroep Getuie$, asook ’n oopmikrofoonsessie (waarvoor belangstellendes vooraf moet inskryf).


Die uitvoerende kunstenaar Quintin Goliath, beter bekend as Jitsvinger, is ’n gevestigde skrywer, komponis, opvoeder en musikant van die Kaapse Vlakte. Hy beskryf homself as ’n “multifasetkunstenaar met hope kreatiwiteit en kultuur te spaar”. Hy het onlangs teruggekeer van sy tweede Nederlandse toer, hierdie keer met die musikale teaterproduksie South African Road Trip: Celebrating Life. Jitsvinger werk tans aan sy tweede album ná die suksesvolle afskop van sy loopbaan met die vrystelling van Skeletsleutel in 2006. Hy is ook in Junie in die Kunstkaap te sien in Smoortjies & Smoothies met Mervyn Africa.

Volgens  Michael Jonas, die Direkteur van die ATM, wil die ATM met hierdie geleentheid die diversiteit van Afrikaanse musiek vier, veral onder jongmense. “Rymkletsers is digters in hul eie reg wat op ’n byderwetse wyse jongmense bewus maak van die rykheid van ons taal en poësie,” sê Jonas.

Toegang is gratis, maar bespreking is noodsaaklik. Bespreek by Nkita Pietersen by 021 872 3441 of student@taalmuseum.co.za. Vir meer inligting oor die ATM, besoek www.taalmuseum.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram.

The post Persvrystelling: Rymklets met Jitsvinger op Jeugdag appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Brei-athon ter viering van Nelson Mandela-dag

$
0
0

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in samewerking met Paarl Museum en die Dorkas en Busy Beez Vroueklubs bied op Saterdag 24 Junie 2017 hul jaarlikse brei-athon aan ter viering van Nelson Mandela-dag.

Volgens Janine Brown, Opvoedkundige Beampte van die ATM, skakel dié insiatief in by die doel van Mandela-dag om individue te inspireer om te help om die wêreld ’n beter plek te maak deur 67 minute van hul tyd te spandeer om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak.

 “Ons wil graag behoeftiges se harte warm maak en hulle help om die winter te trotseer deur ’n kledingstuk vir hulle te brei, hetsy ’n serp, trui of kombersie. Ons het reeds verskeie groepe gevorm wat items begin brei het ten bate van die projek . Almal word uitgedaag om te brei. Indien jy nie kan brei nie, sal ons jou leer!”

Breilesse by verlede jaar se Brei-athon: Agter van links na regs is Michael Jonas (Direkteur van die ATM), Janine Brown (Opvoedkundige Beampte van die ATM) en Illeeqah Uys van Worcester. Voor is Sarah Martin van die Paarl, Rushello Uys van Worcester, en Ray en Gloria Williams van die Paarl (Foto: verskaf)

Die brei-athon vind van 09:00 tot 14:00 by Paarl Museum op Van der Lingenplein plaas. Deelnemers moet hul eie breipenne saambring en word aangemoedig om wol saam te bring, maar wol sal ook verskaf word. Mense kan ook vooraf items brei.

Die breiwerk sal op 18 Julie 2017 saam met sop en broodjies aan behoeftige grootmense en kinders in Groenheuwel, Fairyland en Klapmuts uitgedeel word.

Enige skenkings van bolletjies wol, klere, speelgoed en blikkieskos is ook welkom. Dit moet teen Dinsdag 11 Julie 2017 afgegee word by die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan of Paarl Museum op Van der Lingenplein.

Vir navrae, kontak Nkita Pietersen by 021 872 3441 of student@taalmuseum.co.za

The post Persvrystelling: Brei-athon ter viering van Nelson Mandela-dag appeared first on LitNet.

Rymklets saam met Jitsvinger op Jeugdag: ’n onderhoud

$
0
0

Jitsvinger gaan Klein Nederburg Sekondêre Skool in die Paarl besoek as deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Jeugdagviering op 16 Junie 2017. Menán van Heerden het met hom gesels om meer uit te vind oor rymklets as “edutainment”.

Jy gaan op Jeugdag ’n kort werkswinkel oor rymklets in Afrikaans aanbied. Hoe dra rymklets by tot “edutainment”? Daarmee saam, vertel wat jy onder edutainment verstaan en van jou ervaringe as edutainer in Suid-Afrika en elders.

Musiek is ’n geïntegreerde aspek van mens se kultuur en dra by tot ongekende tegniese bevordering in die kontemporêre samelewing. Rymklets/rap op musiek het vir my ’n nuwe deur oopgemaak deur hip-hop: ’n universele watervoor wat jongmense toegang gee tot identiteit as ’n populêre jeug-subkultuur en primêre invloed. Edutainment bestaan uit twee gedeeltes, naamlik education (opvoeding) en entertainment (vermaaklikheid). Ek vind dit oral (plaaslik en oorsee) interessant hoe edutainment vir my inlig omtrent die kompleks sosiale raamwerk van die jeug se identiteit.

Hoe dink jy kan rymklets bydra as ’n opvoedkundige instrument (buite die formele opvoedkunde, geletterdheidspraktyke en kurrikulum) vir die jongmense met wie jy werk?

Hip-hop-kultuur het ’n groot invloed op die individu se self-bewustheid en sosiale waarneming en dwing ’n kritiese mentaliteit af. Rymklets bevat talle tegnieke en style wat vordering bied aan die literêre wêreld. Dit gee ook, in my ervaring, beter toeganklikheid tot fasette van letterkunde en die beginsels wat dit beheer.  

Foto deur Lindsey Appolis

 Jy het in 2011 met Afrikaaps in Nederland getoer. Jy het pas teruggekeer van jou tweede Nederlandse toer met die musikale teaterproduksie South African Road Trip: Celebrating Life. Wat staan vir jou die meeste uit van jou Nederlandse opvoerings?

Nederlanders is veral gefassineerd oor die Afrikaanse taal se oorspronklikheid en soortgelykheid aan Nederlands. Daar is groot belangstelling vir Afrikaans oorsee oor die algemeen, met aanvraag uit alle oorde van die taal, van musiek tot die geskrewe woord, maar so min platforms plaaslik, wat industrie-vordering kniehalter.

 Jy het tydens ’n 2016-Woordpret-funksie van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) op Stellenbosch genoem dat daar nie net een Afrikaanse standaardtaal is nie, daar is standaarde. Vertel vir ons meer hoe rymklets bydra tot die viering van verskillende vorme van Afrikaans.

Rymklets is die billboard van streeksdialekte, die baarmoeder van nuwe woorde en die fakkel van progressiewe letterkunde. Jy sien dit op sosiale netwerke, in gedigte, op die verhoog met ’n kwaai beat en op die nuutste fashion.

  • Sien die persvrystelling vir Jitsvinger se besoek aan Klein Nederburg Sekondêre Skool in die Paarl as deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Jeugdag-viering op 16 Junie 2017.

 

The post Rymklets saam met Jitsvinger op Jeugdag: ’n onderhoud appeared first on LitNet.

Pos beskikbaar: Kommunikasiebeampte

$
0
0

Pos beskikbaar: Kommunikasiebeampte
(9 maande kontrakaanstelling)

Die Afrikaanse Taalmuseum en-monument (ATM) nooi hiermee geskikte kandidate uit om aansoek te doen om die pos as Kommunikasiebeampte. Aanstellingsdatum: 3 Julie 2017

Vereistes:

  • ’n Nagraadse kwalifikasie in Afrikaans en/of Joernalistiek
  • Uitstekende taalvaardigheid in Afrikaans en Engels
  • Ervaring in skakelwerk, bemarking en sosiale media
  • Ervaring in taalversorging, redigering en vertaling
  • Kennis van basiese grafiese ontwerp en webwerfredigering
  • Kontakbare verwysings

Verantwoordelikhede:

  • Uitvoer van die skakelbestuurplan in oorleg met die Direkteur
  • Skakeling met die media en relevante kundiges
  • Hantering van medianavrae
  • Bemarking van die ATM se aktiwiteite en geleenthede deur onder andere: Die skryf, vertaling en verspreiding van mediavrystellings; die plaas van kennisgewings, foto’s en advertensies in die media, die opdatering van die ATM se webwerf en sosiale mediaplatforms; die ontwerp/uitleg en verspreiding van advertensies, brosjures en inligtingstukke
  • Samestelling van aansoeke om befondsing  
  • Taalversorging van amptelike dokumente

Sluitingsdatum: 23 Junie 2017
Stuur u aansoek aan: Die Direkteur, ATM, Posbus 498, Paarl 7620
Navrae:
Michelle Visagie by 021 872 3441
Indien u na ’n maand geen terugvoering ontvang nie, was u aansoek onsuksesvol.


Vacancy: Communications officer
(9 months contract appointment)

The Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) invites suitable candidates to apply for the position as Communications Officer. Appointment date: 3 July 2017

Requirements:

  • A postgraduate qualification in Afrikaans and/or Journalism
  • Excellent language skills in Afrikaans and English •
  • Experience in public relations, marketing and social media
  • Experience in language editing, proofreading and translation
  • Knowledge of basic graphic design and website editing
  • Contactable references

Responsibilities:

  • Execution of the public relations management plan in conjunction with the Director
  • Liaising with the media and relevant specialists
  • Handling media enquiries
  • Marketing of the ATM’s activities and events, including the writing, translation and distribution of media releases; the placement of notices, photos and advertisements in the media; the updating of the ATM’s website and social media platforms; and the design/layout and distribution of advertisements, brochures and information documents
  • Compiling funding/sponsorship applications
  • Language editing of official documents

Closing date: 23 June 2017
Applications must be sent to:  The Director, ATM, PO Box 498, Paarl 7620
Enquiries: Michelle Visagie at tel 021 872 3441. 
If no feedback is received after one month, application was unsuccessful.

The post Pos beskikbaar: Kommunikasiebeampte appeared first on LitNet.


Onvertelde stories: Noord-Kaapse mondelinge-oorlewering-projek

$
0
0

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl het van 8 tot 11 Mei 2017 die Noord-Kaap besoek om inwoners se stories op te teken. Janine Brown en Isabeau Botha vertel meer vir Menán van Heerden.

Waar kom die idee vir hierdie projek vandaan?

Ons wil graag ons museumversameling uitbrei om meer verteenwoordigend te wees van die breër Afrikaanssprekende gemeenskap se taalerfenis. Die opteken van mondelinge oorlewering speel ’n belangrike rol in die bewaring van ’n taal en sy geskiedenis, veral om voorheen onvertelde en ongedokumenteerde geskiedenisse in te sluit. Dit sluit in om aan gemeenskappe en mense wat nie voorheen ’n stem gehad het nie, die geleentheid te bied om hulle stories te vertel. Ons wil ook graag gemeenskappe en skole bewus maak van die belangrikheid van storievertelling en mondelinge erfenis as ’n navorsingsmetode. Ons het tydens ons twee navorsingstoere na die Noord-Kaap ook as deel van ons leesprojek Laat ons Lees! 200 boeke aan elk van 11 laerskole geskenk (in samewerking met Biblionef) en by sewe van die skole ’n opvoedkundige program aangebied.

 Wat is die fokus van hierdie projek?

Dit vorm deel van ’n groter mondelinge-oorlewering-projek om die Noord-Kaapse kultuur en erfenis uit te bou en te bewaar deur middel van boekstawing. Die ATM het reeds stories in die Emthanjeni-, Renosterberg-, Kamiesberg-, Siyathemba-, Gamagara-, Thembelihle- en Siyancuma-munisipaliteite, asook in Orania, versamel.

Willem Seekoei en Isabeau Botha by die Noord-Kaap Taalmuseum in Petrusville (Foto: Janine Brown)

Waarom fokus die projek op die Noord-Kaap?

Eerstens is Afrikaans die grootste moedertaal in die Noord-Kaap (53,8% van 1,1 miljoen inwoners). Ons ervaring is egter dat tweede- en derdetaalsprekers in die Noord-Kaap Afrikaans goed magtig is, dit daagliks gebruik en ’n baie positiewe verhouding met Afrikaans as taal van bemagtiging het. Tweedens is daar baie onvertelde stories in die Noord-Kaap wat nog nie opgeteken is nie – stories wat verlore gaan soos wat dorpe kwyn en verdwyn, mense wegtrek en ouer mense (tradisioneel die storievertellers) nie meer die stories oor die ou dae kan vertel nie.

Het die ATM al sulke projekte onderneem, en beplan die ATM soortgelyke projekte vir die toekoms?

Ons het reeds verskeie mondelinge-oorlewering-projekte aangepak, waaronder die opteken van stories in Drakenstein in 2013 (in samewerking met Paarl Museum), in Porterville in 2013 ter viering van dié dorp se 100-jarige bestaan (in samewerking met Jan Danckaert Museum), asook kruiestories in die Langebergstreek in 2014 (in samewerking met Montagu Museum). Ons het ’n boekie oor elke projek gepubliseer wat gratis op die ATM se webwerf beskikbaar is.

In 2013 het ons ’n spesiale mondelinge-oorlewering-projek in samewerking met Esselenpark Primêr op Worcester ter viering van hul 60ste bestaansjaar onderneem. Dié projek is in 2015 by die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport se 2015-Kultuursake-toekennings as die Beste Nuwe Museumprojek bekroon.

Die skoolkurrikulum vir graad 4 sluit die saamstel van ’n museumuitstalling in. Ons het die skool se graad 4-leerders bygestaan om ’n interaktiewe museumuitstalling van alledaagse voorwerpe oor hul skool saam te stel, met byskrifte om daaraan betekenis te gee. Hulle moes verskillende vorme van inligting, waaronder foto’s, versamel. Hulle moes ook onderhoude met oudleerders en –opvoeders voer. Ons het die skool gereeld besoek om met onderhoudvoering te help en het ook ’n boekie oor die projek saamgestel (wat ook gratis op die ATM se webwerf beskikbaar is).

Ons beplan om in die toekoms mondelinge oorlewering in ander provinsies op te teken, onder andere in die Oos-Kaap. Ons wil ook ter viering van die ATM se 45-jarige bestaan in 2020 die storie van die ATM deur die oë van gewone mense, veral mense wat destyds by die oprigting en beginjare betrokke was, vertel.

Hoe gaan die stories bewaar word?

Al die stories word op video opgeneem en getranskribeer, waarna dit volgens temas ingedeel word. Alle materiaal, waaronder ook foto’s, word in die ATM se argief opgeneem. Ons het ook reeds taalverskynsels uit die Kamiesbergstreek in ons museumuitstalling en opvoedkundige programme ingesluit.

Ons beplan om temagebonde artikels op ons webwerf en op ander platforms, waaronder ons portaal op LitNet, te publiseer. Ons hoop om later ’n versamelbundel uit te gee.

Wie se stories het julle die meeste opgeval?

Die temas wat ons telkens in die Noord-Kaap raakloop, sluit in:

  • water (waaronder stories oor droogte, die waterslang, windpompe, putte, fonteine en boorgate)
  • koserfenis (waaronder disse, resepte en gaarmaakmetodes eie aan sekere dorpe en streke)
  • taalidentiteit (nuutskeppings, streekstaal en variëteite) en volkswoordkuns (byname, speletjies en gesegdes)
  • vervoer as lewensaar (hoe mense en dorpe (én spookdorpe) se wel en weë deur die spoorweë en paaie beïnvloed is).

Ons het wonderlike mense ontmoet wat elkeen ’n unieke storie te vertelle het. Soos oom Jan Mitchell van Olifantshoek wat vertel hoe hulle kleintyd tameletjie in ’n miershoop gemaak het; tannie Siena (Nannie) van Nel van Prieska met haar pa se kabaailiggie uit die myn en haar lekker lag oor haar eie vrylampie; oom Willem Olivier (oom Voël, omdat hy so vinnig kan werk) van Marydale met sy unieke posbus en deurklokkie; oom Johannes Blaauw (oorspronklik van Putsonderwater) wat verduidelik hoe ’n mens skilpad gaarmaak; en oom Flip Crouse, voormalige burgemeester van Kuruman, wat sy herinneringe aan sy ontmoeting met Nelson Mandela met ons deel. En op Orania het Joost Strydom vir ons nuwe woorde soos kiepkoepel (’n verskuifbare hoenderhok), swartbontes (Liqourice All Sorts) en flitspen (highlighter) geleer.

Siena van Nel (Nannie) van Prieska met haar pa se kabaailampie (Foto: Isabeau Botha)

Willem Olivier (Voël) van Marydale en sy tamatieblikkie deurklokkie (Foto: Isabeau Botha)

Janine Brown en Johannes Blaauw in Marydale (Foto: Isabeau Botha)

Op 8 September 2016, Wêreldgeletterdheidsdag, het Mervyn Swart ons genooi om ID du Plessis se graf te besoek op die plaas Houtkraal buite De Aar.

ID du Plessis se graf (Foto: Isabeau Botha)

Buite Philipstown op die plaas Rooipoort (waar hulle eers in 1994 krag gekry het) het ons die heerlikste ingelegde kwepers geëet en is ons huis toe met resepte vir pofadder, skaappeertjies en ystervark. Op Hanover het ons verneem dat jy ystervarkpenne moet fynmaak en die poeier in water kan drink as hulp vir pyne. 

Op Rooipoort is ons vertel van ’n weduwee wat gesê het dat sy nie weer man gaan vat nie, want “’n donkie wat deur die Here uitgespan is, mag geen mens weer inspan nie”. Regina Seekoei op Petrusville het weer vertel van Oumie Berta Cramer wat ná haar man se afsterwe gesê het: “My oorle man is dood, nou kan ek ook die askoek dans.”

Ons het baie weergawes van stories oor die waterslang opgeteken; ook op Petrusville, waar ’n regte slang (darem agter glas) die slaghuis se weergawe van ’n alarm is!

Wat ’n mens oral opval, is die vriendelikheid van mense ten spyte van groot werksloosheid, armoede en probleme soos drankmisbruik. ’n Plaasnaam soos Wet en Orde is in sterk kontras met ’n woonbuurt genaamd Vullisgat. Ons was saam hartseer oor museums en skole wat toegemaak het en skoolkoshuise wat vervalle staan terwyl plaaskinders ten duurste op die dorp moet loseer of kilometers ver elke dag taxi moet ry.

Ons besoek landelike skole waar die skoolklok soos in die ou dae steeds met die hand gelui word, waar (amper ook soos in die ou dae) 50 kinders van vier verskillende grade in een klas is (dit wil gedoen wees!), maar, dankie tog, darem net stories oor leie en griffies!

Die Noord-Kaap voel dus omtrent soos die A tot Z van Afrikaans, amper soos oom Flippie de Bruin se optekening van hoe hy en die ander kinders op Olifantshoek tussen 1920 en 1930 die alfabet geleer het (oorvertel deur Sarah du Pisanie):

A is ’n aap
B is ’n bees
C was amper ’n sekel gewees
D is ’n donkie hy skop agter op
E is ’n eend met ’n bles voor die kop
F is Flippie met die pyp in die mond
G is ’n graaf om te spit in die grond
H is ’n huisie waar ’n vuurtjie in brand
I is ivoor ’n olifanttand
J is ’n juk vir die osse se nek
K is ’n kalfie wat nog later moet trek
L is ’n lepel
M is ’n mes
N is die naam van ’n voëltjie se nes
O is ’n oor
P is ’n perd
Q is sommer ’n o met ’n stert
R is ’n roos
S is ’n slang
T is ’n tier wat ’n kalfie wil vang
U is ’n uurwerk ons noem dit ’n klok
V is ’n varkie hy staan in die hok
W is ’n wolkie daar bo in die lug
X is ’n kruisie hy lê op sy rug
Y is ’n yster hy deug vir ’n paal
Z kry ons min in die Afrikaanse taal.

Wel, interessante stories kry ons baie in die Afrikaanse taal, veral in die Noord-Kaap! Elke dorp in die Noord-Kaap is ’n stowwerige skatkis van stories, elke grondpad lei na verrassings soos hanskoedoes, San-tekeninge en geen selfoonontvangs; elke mens wat jy ontmoet is ’n hele wêreld wat wag om ontdek te word. Soos een tannie gesê het: sy is dankbaar vir ons kuier en ons moeite met die projek, want dit “prikkel jou geheue”.

Die Noord-Kaap Taalmuseum in De Aar (Foto: Isabeau Botha)

Waterslang-stories

– Nog ’n ding van die slang: Ons was altyd bang – ons het maar net gehoor die oumense praat mens nou maar bang. Jong, die slang bly hier bo by die tweelingdam. Baie van die kinders het altyd gesê: “Jong, daar’s ’n slang, ’n waterslang.” Nou wil ek mos altyd weet hoe lyk dié waterslang. Dan sê sy: “Dis so ’n lang, dik slang met ’n menskop en dan is sy lyf soos ’n vis.”

Maar eendag is ons nou nuuskierig en wil nou die slang sien. Maar toe ons nou daar kom – jy sien maar net die water. Maar ek het nog nooit werklik die slang gesien nie, ook as ons altyd so rivier toe gaan. Eenkeer het ons daar by Vanderkloof se vakansieoord by die munisipaliteit gaan uitkamp. Toe was daar ’n jong kind ook geverdrink daar. Daar waar die bote afgaan. Toe hoor ek: “Nee, dis die slang wat hom daar so afgedruk het.”

Maar ons het hom nog nie self gesien nie. En as die water ook so onstuimig word, dan sê die mense mos: “Hy’s nou kwaad vir jou wat hom nou kom henner het en hy soek nou een van julle.”

Soos juffrou Beerwinkel sê: “In die wolke in. Dan sien ons maar die wolk wat gaan. Dan sien jy die wolk wat in die vorm van ’n stert afhang, dan sê hulle: ‘Die slang gaan nou ’n bietjie weer hier oor.’” – Maria Wilson, Petrusville

– My plaasmense wat saam met my gewerk het, was nogal bygelowig, reeds oor die fontein wat daar is. Die fontein het agt boorgate en hulle is uitgegrou. As jy nou binne die fontein staan, hy’s twee meter afgegrou tot op die bank, soos die oumense gepraat het van “op die vaalbank”. Dis op die harde ystergrensbank. En nou elke jaar val die grond in, en dan verswak die fontein, dan moet jy dit weer oopgrawe.

Toe’t my pa nou besluit tot hiertoe en nie verder nie, want dit vat omtrent veertien dae van jou tyd om dit weer oop te grawe. Toe gaan bou hy sulke sementkaste reg rondom die agt boorgate, en gooi vir hom concrete bo-oor, met ’n inspeksiegat wat jy kan inklim. En elke jaar moes ek nou daar inklim en dan loop ek en dan haal ek al die wortels uit.

Op ’n dag toe is ek en my mense nou weer daar – ons moet skoonmaak en so. Die een moet inklim, die wortels binnekant afbreek en aangee vir een, hy gee dit bo by die gat uit. Ek het die grap gemaak: “Wie klim vandag saam my hierin; jy moet net pasop vir die waterslang.” Dit was die einde gewees. In my 20 jaar wat ek daar geboer het, het ek alleen daarin geklim. Ek praat van maklik ’n 100 meter. Dit is ’n concrete-kas wat jy moet in loop. En omdat ek gesê het “Julle moet oppas vir die waterslang” en eintlik net ’n grap gemaak het, was dit my lot gewees. Vir 20 jaar het ek alleen daar ingeklim en daai wortels uitgehaal. My mense het gesê nee, hulle klim nie daarin nie, want die baas het gesê daar is ’n waterslang. – Johan van der Walt, Petrusville

In die omgewing van Petrusville het ons telkens verwysings na “dumplings” raakgeloop, ook genoem “waterbrood”, “pollekoek” en “dompeling”.

In die middae as ons uit die skool uitkom, was daar van die maats se ma wat so ’n groot pot gehad het, dan het sy geknie en dan het sy waterbrood gemaak. Wanneer ons nou gaan vir onse speletjies en dinge, dan kom vat elkeen net vir hom ’n stuk van daai waterbrood. Baie lekker.

Waterbrood

Jy kook die water en sit bietjie vet in dat die brood nie kan vasbrand nie en dan as jy hom klaar geknie het, dan vat jy vir hom bolle, sit dit in. Lekker groot bolle, sit dit in. So drie of vier sit jy in die pot in. Dan kook daai brood nou met die water. Ander het stokkies ingesit lat die brood nie kan onder vasbrand nie. En met die water dan word die deeg nou so gaargemaak. – Regina Seekoei, Petrusville

Springbokpeertjies

Ons noem dit sommer Karoo mushrooms. Ons eet hom maar. Maar as jy hom eenmaal geëet het, dan weet jy hoe dit proe. Baie ryk. Hy word baie mooi voorberei, baie mooi skoongemaak. En dan het my ma (Ina van der Walt) dit in krummels gesit en in die olie gebak. En daai Amerikaners eet vir jou, want hulle kom honger uit die veld uit. En vanaand dan, môreoggend, hoor jy maar die ou was siek gewees, so hy’s baie ryk. – Corné Stottelaar, Petrusville/Vanderkloof

Springbokpeertjies, skaapstertjies en ystervark rugvel resepte
Uit Doornfontein, Ina van der Walt se wildsvleisresepte

Springbokpeertjies
(of as die ramme te min was, kry skaappeertjies by Jurie by die slagpale)

Skil af tot dit wat jy in jou hand het, soos gemaalde varkvleis lyk! Sny in 1,5 cm-blokkies en laat lê so bietjie in koue soutwater. Die enigste metode van gaarmaak wat ek ken, het ’n Amerikaner my geleer!

Maak deeg aan: 2 koppies bruismeel, sout en swartpeper en klop dit aan met ’n blikkie bier. Die deeg moet so ’n halfuur in die yskas rus.

Doop elke blokkie in deeg en braai in warm olie. Sit voor met kaassous.

Héérlik vir só ’n pikante ding, sal Johann sê.

Sophie van Ross van Griekwastad (Foto: Isabeau Botha)

Skaapstertjies

(soos Corné daarvan hou)

Maak maar bymekaar sodat jy in die jagseisoen genoeg het. Stertjies kan met wol en al vir 20 min op die kole braai – dis vir plaaskinders heerlik! As die jagters stadsjapies is, verwyder liewer die vel, sit so 2 uur lank in die ysterpot in die Aga, braai dit dan oor die kole – onthou die Aromat of braaivleisspeserye.

Van sterte gepraat, moenie die grootwild se sterte verlore laat gaan nie – saag dit op en maak dit saam met bietjie vark gaar, of meng dit met beesstert en maak gaar.

Wenk: As jy enige snit wildsvleis vinnig sag wil kry, laat lê in vars, gerasperde pynappel. Goeie idee om pynappel in jou marinade te meng – sagte steak binne ’n uur.

Yvonne van den Berg en Meemie, die einameerkat, van Douglas (Foto: Isabeau Botha)

Ystervarkrugvel

(mits Jannie en René daarvoor sorg!)

Soos Hendrik Susan sê: “gulpooprukkende lekker ervaring”

Benodig: ystervark, pekelwater, water om in te kook, 50 ml suurlemoensap, sout, peper, Aromat en bietjie chillibite-speserye.

As jy dit self moet skoonmaak, verwyder penne deur dit in vlam te skroei, dan trek penne maklik uit. Plaas vark in baie warm water en skraap baie goed. Slag rugvel af en laat lê dit in pekelwater vir een dag. Verwyder en was in vars water. Kook vel nou in water met die suurlemoensap tot sag. Haal uit, druk droog, sprinkel met speserye en braai oor die kole tot goudbruin en bros – sny dun skyfies en eet maar ’n broodjie daarby!

The post Onvertelde stories: Noord-Kaapse mondelinge-oorlewering-projek appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Taaldag 2017

$
0
0

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en die Afrikaanse Taalraad (ATR) bespreek gedurende hul gesamentlike Taaldagvieringe op 26 Augustus 2017 in die Paarl ’n aantal interessante vrae oor die herkoms en vestiging van Afrikaans as volwaardige taal. Hoe en waar het Afrikaans ontstaan en wie se taal is dit? Hoe verstaan mens vandag, met die agterna-insig van baie jare, die bydrae van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 tot die ontwikkeling en vestiging van Afrikaans as ’n volwaardige taal? Wie het almal bygedra tot die wording van Afrikaans? Hoe gaan Afrikaans in 2040 daar uitsien?

Die Taaldagprogram sal bestaan uit ’n paneelbespreking oor die herkoms van Afrikaans en ’n kultuurprogram wat die diverse herkoms en kulture van die Afrikaanse taalgemeenskap sal vier. Die sprekers is Christo van Rensburg, skrywer van So kry ons Afrikaans, Anzil Kulsen, skrywer en projekbestuurder by die ATKV, Imam Hashim Salie, voormalige president van die South African Hajj and Umrah Council, en Charlyn Dyers, mederedakteur van die boek Kaaps in fokus. Die gespreksleier is Rian Cloete, ’n bekende in mediakringe.

Rian Cloete (foto: Naomi Bruwer), Charlyn Dyers, Christo van Rensburg (foto: Izak de Vries), Imam Hashim Salie (foto: Twitter) en Anzil Kulsen

Michael Jonas, direkteur van die ATM, sê: “Die agt stigterslede van die GRA is vir almal ’n bemoedigende voorbeeld van hoe gewone mense ’n verskil kan maak deur op te staan vir hul taal: Afrikaans verkeer vandag weer onder geweldige druk, hoewel dit vir baie mense hul enigste vorm van kommunikasie is. Die ATM wil graag deel vorm van debatvoering oor brandpunte in ons Afrikaanse taalgemeenskap, veral dié wat die saak van Afrikaans, en al haar sprekers, benadeel.”

Volgens Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Taalraad, sal hierdie Taaldag “help om etlike negatiewe narratiewe oor die herkoms en eienaarskap van Afrikaans te takel en daarmee samehorigheid tussen Afrikaanssprekendes bevorder”. Met behulp van afrikaans.com sal die Taaldagboodskap wyd uitgedra word.

Die Taaldagvieringe vind plaas by die saal van die Toringkerk in Paarl, hoek van Hoof- en Van der Lingenstraat. Die paneelbespreking begin om 09h30, gevolg deur die kultuurprogram om 13h30. Bywoning is gratis, maar sitplekke is beperk. Bespreek by Ria Olivier, ria@afrikaansetaalraad.co.za of Nkita Pietersen, student@taalmuseum.co.za. Skakel gerus 021 872 3441 of 021 951 4391 vir meer inigting.

The post Persvrystelling: Taaldag 2017 appeared first on LitNet.

Marie Luttig-gedenklesing: Daniel Hugo lewer lesing oor vertaling

$
0
0

Daniel Hugo
Foto: Marlene Malan

Vertaling – en om voltyds in Afrikaans te werk – is die tema van vanjaar se Marie Luttig-gedenklesing, met die bekende digter, vertaler en skrywer Daniel Hugo as gasspreker, op Maandag 14 Augustus 2017 in die Paarl.

Die gedenklesing word vanjaar vir die veertiende keer deur die Hugenote Gedenkskool aangebied. Dié gerestoureerde skool, wat op 14 Maart 1883 geopen is met die doel om moedertaalonderrig in Afrikaans te verseker, is op die plaas Augusta Kleinbosch in Dal Josafat tussen die Paarl en Wellington geleë. Die lesing word egter vanjaar in die Historium Konferensiesentrum langs die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan in die Paarl aangebied as gevolg van herstelwerk ná brandskade vroeër vanjaar op die plaas.

Hugo is ’n digter en vertaler, en het etlike bloemlesings uit die Afrikaanse poësie en verhaalkuns saamgestel. Hy was as student aan Stellenbosch Universiteit ’n lid van die digter DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium. Hugo was later ’n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, waarna hy byna 20 jaar lank in Kaapstad ’n omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK was waar hy verantwoordelik was vir die literêre programme. Hy is meermale vir sy omroepwerk bekroon. Deesdae is hy ’n vryskut-taalpraktisyn. In 2014 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se vertaalprys vir sy vertaling van Tom Lanoye se roman Sprakeloos, en weer in 2017 vir Stefan Hertmans se Oorlog en terpentijn.

Vorige gassprekers sluit in JC (Kay) de Villiers, Richard van der Ross en Karen Meiring. Die lesing gedenk die bydrae van Marie Luttig, in lewe ’n Johannesburgse ginekoloog en verloskundige, asook ambassadeursvrou in Londen en Oostenryk in die 1960′s, wat by haar afsterwe in 1997 fondse vir die bevordering van Afrikaans nagelaat het. Die Gedenkskool se Skerpskryf-projek vir Afrikaanse leerders word sedert 2011 deur die Marie Luttig-trust befonds. 

Bywoning is gratis, maar sitplek is beperk en bespreking is dus noodsaaklik. Die geleentheid begin om 18:00 vir 18:30 en sluit ’n optrede in deur die plaaslike kunstenaars André Terblanche en Winand Grundling. Bespreek by Janine Brown by info@hugenotegedenkskool.co.za  of 021 872 3441.

  • ’n Lewende monument vir Afrikaans en moedertaalonderrig: Die Hugenote Gedenkskool het in 1910 sy deure gesluit. Die skrywer WA de Klerk het in die jare tagtig die aanvoorwerk gedoen om die skool in ere te herstel. ’n Ewigdurende servituut is oor die stuk grond en die gebou geregistreer. Die gebou is met die hulp van Naspers en Die Burger, asook verskeie Afrikaanse kultuurorganisasies gerestoureer, en op 25 Maart 2002 ingewy. ’n Nuwe museumuitstalling en modern konferensiegeriewe is in 2016 ingerig. Begeleide toere is met voorafbespreking beskikbaar. Vir meer inligting, besoek hugenotegedenkskool.co.za.

The post Marie Luttig-gedenklesing: Daniel Hugo lewer lesing oor vertaling appeared first on LitNet.

Fotoblad: Die herkoms van Afrikaans ‒ Taalmaandvieringe in die Paarl

$
0
0

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) en Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het op Saterdag 26 Augustus as deel van hul gesamentlike Taalmaandvieringe in Paarl ’n paneelbespreking en kultuurprogram oor die herkoms van Afrikaans aangebied.

Afrikaans en die taal se diverse, inheemse wortels en kultuurerfenis is gevier.

Menán van Heerden het namens LitNet die verrigtinge bygewoon.

Fatima Allie, nuutverkose ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad

Christo van Rensburg, skrywer van So kry ons Afrikaans

Imam Hashim Salie, voormalige president van die South African Hajj and Umrah Council

Donique Cloete, honneursstudent by die Universiteit van Wes-Kaapland

Anzil Kulsen, skrywer en projekbestuurder by die ATKV

Anzil Kulsen gesels oor Oranjerivierafrikaans.

Die verskillende invloede van Afrikaans

’n Voorbeeld van ’n Arabiese Afrikaans teks

Michael Jonas, direkteur van die ATM en Willem Botha, uitvoerende redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal

John Cornelius Witbooi

Willa Boezak en Danny Titus

Seremoniemeester van die kultuurprogram: Poem Mooney

Lukhanyo-marimbagroep

Kaapse Affodille (vroueboereorkes)

André Boesak lees stories as deel van die kultuurprogram.

Getuie$-rymkletsgroep

Die Bosbok Trappers-rieldansgroep

Caledonian Roses-klopsegroep

Young Men Sporting Club-Maleierkoor

Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR

Rian Cloete (gesprekleier), Sophia Oliphant (lid van die groep Mengelmoes-digters wat onder andere Diana Ferrus insluit) en Christo van Rensburg

John Cornelius Witbooi, Rian Cloete, Fatima Allie en Christo van Rensburg

Jethro Louw, Rian Cloete en Jitsvinger

The post Fotoblad: Die herkoms van Afrikaans ‒ Taalmaandvieringe in die Paarl appeared first on LitNet.

Laat die spelling van jou taal soos ’n paal bo water staan

$
0
0

Taalmonument bied werksessie oor die nuwe AWS aan

Alle Afrikaanse taalpraktisyns word hartlik uitgenooi om saam met Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie, om ’n tafel te sit en touwys gemaak te word oor die veranderinge in die jongste, omvattende Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS).

Hierdie opwindende 11de uitgawe van die ‘taalbybel’, wat ’n eeu gelede vir die eerste keer verskyn het, bevat onder meer die nuutste nuutskeppings, nuwe woorde uit Afrikaans se gebruiksvariante, duidelikheid oor die gebruik van leestekens asook ’n lys Oosterse plekname en name van elemente in die periodieke tabel. 

As jy dus verward is oor die verskil tussen ‘handvol’ en ‘hand vol’, nie weet wat ’n ‘hommeltuig’ of ‘googleloer’ is nie of nog altyd trappe van vergelyking en afstandsamestellings beter wou verstaan, is hierdie werksessie (en boek) beslis vir jou. Gerhard sal vergesel word deur Jana Luther, ’n lid van die eindredaksie van hierdie lywige handleiding van meer as 800 bladsye (ook elektronies beskikbaar) wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie saamgestel is.

Die werksessie vind op Donderdag 19 Oktober 2017 vanaf 09:00 tot 13:00 by die monument op Paarlberg plaas en kos R50 per persoon. Koffie/tee is ingesluit en kursusgangers kan hul eie middagete bring of bestel by Volksmond Koffiewinkel op die perseel. Daar word aanvaar dat die kursusgangers bekend is met die reëls soos vervat in die vorige ‘groen’ AWS. Kursusgangers wat reeds die nuwe uitgawe het, behoort groter nut uit die werksessie te kry. Plekke is beperk, bespreek dus asseblief  vroegtydig by Nkita Pietersen op 021 872 3441 of e-pos student@taalmuseum.co.za.

The post Laat die spelling van jou taal soos ’n paal bo water staan appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Slawe se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans onder die loep

$
0
0

Slawe se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans onder die loep
Gratis lesing: Taalmuseum eer die ‘bevryde’ taalgebruik van slawe

‘Baie’, ‘blatjang’, ‘pondok’ ... ‘baadjie’, ‘piesang’ en ‘amok’. Hoeveel armer sou Afrikaans en Suid-Afrikaanse tale nie sonder hierdie woorde gewees het nie? Daarom dat die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl op 5 Desember hulde bring aan die rol wat slawe en hul afstammelinge in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het, 183 jaar ná die vrystelling van slawe op 1 Desember 1834.

Taal- en VOC-navorser Helena Liebenberg* is die gasspreker en sal fokus op die Kaapse slawe se taalerfenis en hoe hulle gebruik van 17de-eeuse Nederlands gehelp het om Afrikaans as ’n volwaardige taal te vestig. Helena fokus op interessante woorde en taalverskynsels wat sy op haar argivale reise ontdek het.

Dié gratis geleentheid wat om 18:00 begin, vind by die Historium in Pastorielaan, Paarl, plaas. Happies en drankies sal vooraf bedien word.

Vir besprekings, kontak Nkita Pietersen by student@taalmuseum.co.za of 021 863 0543 voor 3 Desember 2017. Daar is slegs ruimte vir 50 gaste.

* Liebenberg het aan die Universiteit van Suid-Afrika studeer waar sy ook lank as dosent gewerk en later haar doktorsgraad in Afrikaanse Semantiek verwerf het. Vanaf 2001 tot 2008 was sy voltyds betrokke by twee VOC-transkriberingsprojekte in die Kaapse Argief. As trustee van die Tracing History Trust is sy sedertdien betrokke by soortgelyke digitaliserings-opdragte, waaronder die Trust se VOC-Daghregisterprojek. Helena doen ook vertaal- en redigeerwerk, skryf vakkundige artikels oor Afrikaanse taalkunde-onderwerpe, asook kinderboeke (meestal Afrikaanse idiome) en is mede-outeur van die Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Sy tree dikwels in die openbaar op en behandel onderwerpe rakende taal, kuns, kultuur, geskiedenis en die mistieke.

The post Persvrystelling: Slawe se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans onder die loep appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Taalmonument toenemend ’n moet-sien vir gemeenskap en toeriste

$
0
0

Relevant vir inwoners én taalgemeenskappe van Afrika

Die Afrikaanse Taalmuseum en –monument (ATM) in die Paarl word toenemend as ’n moet-sien en moet-beleef plek beskou deur inwoners en buitelandse toeriste. Só het die direkteur, Michael Jonas, verlede week gesê tydens ’n geselligheid om nuwighede by die ATM asook die monument se visie vir die onmiddellike toekoms bekend te stel.

“Afrikaans is tans onder druk, veral van regeringskant, maar aan die ander kant word ’n ongelooflike en ongekende hoeveelheid Afrikaanse boeke, rolprente en musiek geskep,” het hy bygevoeg. “Wat veral opval, is dat variante van Afrikaans wat die afgelope eeu nie tot hul reg gekom het, nou ’n bloeitydperk beleef. Die totaliteit van Afrikaanssprekendes is besig om die taal te eien, tot almal en veral die taal se voordeel. ’n Diverse groep Afrikaanssprekendes is besig om hul stemme te vind.”

Volgens Jonas neem die ATM kennis hiervan en vervul dit ’n aktiewe rol om hierdie verwikkelinge te akkommodeer en te bevorder. “Dit is ’n lewende instelling; dit dien as ’n bymekaarkomplek vir Afrikaanssprekendes om lesings, musiek, literatuur, prettige taalwerksessies en mekaar se samesyn te waardeer en geniet. En om dit te deel met nie-Afrikaanssprekendes.”

Daarom het die taalmonument nou oudiogidse in Afrika- en buitelandse tale beskikbaar om nog meer mense in hul eie tale oor hierdie jongste lid tot die taalfamilie in te lig. Die Taalmuseum in die dorp self speel ook ’n belangrike rol met die bewaring en digitalisering van ongelooflike Afrikaanse manuskripte. “Wat waar is vir die bevordering van Afrikaans, kan ook waar word vir ander Afrikatale; daar is beweging, maar relatief stadig,” het Jonas gesê. “Ons wil sien dat hierdie ikoon ’n simbool van hoop en trots vir alle Afrikane word.”

Naas die monument se fokus op kultuur, natuur en plesier, het Jonas benadruk dat die monument, en selfs die taal, niks is sonder die plaaslike gemeenskap en Afrikaanssprekendes, waarookal hulle hul op die planeet bevind, nie. “Daarom bied ons pieknieks ten behoewe van die ‘Laat ons Lees!’-geletterheidsprojeke vir kinders, ’n pretdrafkompetisie ten bate van die Boland Skool vir Outisme en gee ons studente die kans om werkservaring by die monument op te doen,” het hy gesê.

“Elke week kom skoolgroepe, van ’n wye verskeidenheid sosio-ekonomiese en taalagtergronde, om meer oor Afrikaans se ontstaan te leer en die natuurskoon te ervaar. En ons is al vir ’n dekade aktief besig om onopgetekende variante van Afrikaans en Afrikaanse leefwêrelde, veral in die Noord-Kaap, op te teken en in ’n digitale formaat vir die nageslag te bewaar. Laat ons duidelik wees: as die Bolandse gemeenskap nie die monument as relevant beskou nie, is dit moeilik om die waarde van hierdie plek, hierdie ruimte, aan ander mense oor te dra.

“Gelukkig lyk dit asof die Afrikaanse Taalmonument toenemend as ’n moet-sien toerisme-attraksie deur binnelanders en buitelanders beskou word. En dit is waarop ons wil voortbou. Voorts wil ons die instelling nog meer posisioneer as simbool van hoop, nasiebou en sosiale samehorigheid.”

Van die ander verwikkelinge by die monument, is ’n vergrote en verbeterde Volksmond-restaurant, nuwe, veeltalige besoekersborde asook lewensgrootte speletjies vir kinders. Die monument en museum bied hierdie seisoen weer tientalle geleenthede soos pieknieks, musiekkonserte, sportgebeure en lesings aan. Aangesien die monument in 2020 ’n 45 jaar jonk gaan wees, is daar ook ’n projek geloods om die bouers van die monument op te spoor, hul verhale op te teken en aan hulle lewenslange "ere-taalkaarte" te gee waardeur hulle die monument gratis kan besoek.

Die geselligheid is onder andere bygewoon deur verskeie raadslede van Drakenstein Munisipaliteit asook lede van die Afrikaans Taalraad. Soulsound Live en Blaq Pearl het die gaste vermaak met musiek en gedigte.

Vir meer inligting, sien www.taalmonument.co.za

Soulsound Live

Janine van Rooy (Blaq Pearl)

Ria Olivier (Afrikaanse Taalraad), Hendrik Theys (Afrikaanse Taalraad) en Jenny van de Rheede

Raadslid Ben de Goede (Drakenstein Munisipaliteit), Ria de Goede (Wynland Dameskring), Raadslid Laurichia van Niekerk, en Wyk-raadslid Loekie Niehaus

Michael Jonas (ATM-direkteur)

Sybrandus Adema

Language monument increasingly a must-see attraction for residents and tourists
Relevant to locals and language communities of Africa

The Afrikaans Language Museum and Monument (ATM) in Paarl is increasingly regarded as a must-see and must-experience place by residents and foreign tourists. This according to the director, Michael Jonas, who spoke last week at a function to introduce new additions to the ATM as well as the monument’s vision for the immediate future.

"Afrikaans is currently under pressure, especially from the government, but on the other hand, an incredible and unprecedented amount of Afrikaans books, films and music are being created," he added. "What is especially surprising is that variants of Afrikaans that have been ignored over the past century are now blooming. The totality of the Afrikaans speaking community is claiming the language, to the benefit of all and especially the language itself. A diverse group of Afrikaans speakers are finding their voices."

According to Jonas, the ATM takes note of these developments and plays an active role in accommodating and promoting it. "It's a living institution; it serves as a gathering place for Afrikaans speakers to appreciate and enjoy lectures, music, literature, fun language workshops and each other's company. And to share it with non-Afrikaans speakers."

Therefore, the language monument now has audio guides in African and foreign languages to inform more people in their own languages about this youngest member of the language family. The Language Museum in the town plays an important role in the preservation and digitisation of incredible Afrikaans manuscripts. "What is true for the promotion of Afrikaans can also be true for other African languages; there is movement, but relatively slow," said Jonas. "We want to see this icon become a symbol of hope and pride for all Africans."

Over and above the monument's focus on culture, nature and pleasure, Jonas emphasised that the monument, and even the language, is nothing without the local community and Afrikaans-speaking people in general, wherever in the world they are. "That's why we offer picnics in aid of the ‘Let's Read!’ literacy projects for children, a fun run in aid of the Boland School of Autism, and also provide students with the opportunity to gain work experience at the monument," he said.

"Each week school groups from a wide range of socio-economic and language backgrounds come to learn more about Afrikaans's origins and experience the scenery. And for a decade we have been actively recording undocumented variants of Afrikaans and Afrikaans landscapes, especially in the Northern Cape, and preserving them in a digital format for our descendants. Let's be clear: if the Boland community does not regard the monument as relevant, it's difficult to convey the value of this place, this space, to other people.

"Fortunately, the Afrikaans Language Monument is increasingly regarded as a must-see tourism attraction by locals and foreigners. And that's what we want to build on. In addition, we want to further position the institution as a symbol of hope, nation building and social cohesion."

Regarding the other developments at the monument, there is an enlarged and improved Volksmond restaurant, new multilingual visitor signage as well as life-sized games for children. This season the monument and museum offer numerous events, such as picnics, music concerts, sporting events and lectures. As the monument will be 45 years young in 2020, a project has also been launched to track down the builders of the monument, to record their stories and to give them lifelong 'honorary language cards' with which they can visit the monument for free.

The gathering was attended by amongst others various councillors of the Drakenstein Municipality as well as members of the Afrikaans Language Council. Soulsound Live and Blaq Pearl entertained the guests with music and poetry.

For more information, see www.taalmonument.co.za

The post Persvrystelling: Taalmonument toenemend ’n moet-sien vir gemeenskap en toeriste appeared first on LitNet.


“Nooi”, “sambreel”, “amok”: taalerfenis van die Kaapse slawe

$
0
0

Vrydag 1 Desember was die 183ste herdenking van die vrystelling van slawe (1834). Op Dinsdag 5 Desember het taal- en VOC-navorser Helena Liebenberg ’n lesing by die Afrikaanse Taalmuseum aangebied oor die slawe se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans aan die Kaap, waar die Atlantiese en Indiese Oseane ineenvloei.

Van links: Amira Brown (geleentheidskoördineerder van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument), Chantelle de Kock (kurator van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument), Michael Jonas (direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument), Helena Liebenberg, Sybrandus Adema (kommunikasiebeampte van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument) en Willem Botha (hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal)

Helena Liebenberg

Mense en tale van die vroeë Kaap

Maleise en Maleis-Portuguese taalerfenis

Luister hier na die hele gesprek:

Lees ook:

Slawe en die ontwikkeling van Afrikaans

Maria Smit
Seminare en essays

"'n Taal bestaan uit woorde, grammatikale struktuur en uitspraak. Hoe het slawe Afrikaans help vorm?"


Die vrystelling van slawe, uit die argief: My naam is Februarie

Diana Ferrus
Seminare en essays

"Diana Ferrus skryf 'n gedig oor herkoms: 'Toe is dit my beurt en ek lees die gedig vir die gehoor, maar ek lees dit meer vir my ma, my pa, my oumas en oupas en al die mense wat ek geken het met hulle donker velle en dik, kroes, swart hare.'"


Ons slawe-erfenis: 'n Foto-toer

Menán van Heerden
Menings

"'n Erfenissimposium is op 5 Desember 2013 deur die Afrikaanse Taalmuseum en –monument in samewerking met die Paarl Museum aangebied. Menán van Heerden het dié simposium bygewoon. Hier is haar indrukke en foto's."


Die vrystelling van slawe: Pniël-gemeenskapsmuseum – "Ons storie"

Menán van Heerden
Menings

"Hierdie rotse is vas aan ’n rotsbasis, ’n afbeelding van Afrika, wat geplaas is binne ’n rotssirkel wat die ganse aarde simboliseer. Hiermee word die geskiedenis van ons dorp (en vallei), vir altyd gekoppel aan die vernedering en uitbuiting van miljoene mense in ons land en regoor die ganse wêreld."


Afrikaans: the language of dissent

Menán van Heerden
Seminare en essays

"The language also bears the imprint of a fierce tradition of anti-imperialism, anti-colonialism, of an all-embracing humanism and anti-apartheid activism."


The post “Nooi”, “sambreel”, “amok”: taalerfenis van die Kaapse slawe appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Die berge gaan weergalm met die klanke van talent

$
0
0

Die Taalmonument se Oppiberg Konsert lok Dr Victor & The Rasta Rebels, Paxton & Sean D Band en Jak de Priester.

Die Paarlberg en ikoniese Taalmonument is op 6 April 2018 Suid-Afrika se klank-hoofkantoor met onder andere Dr Victor & The Rasta Rebels, Paxton & Sean D Band asook Jak de Priester wat die aand aan die brand gaan speel tydens die Boland se eerste Oppiberg Konsert. Dié super suksesvolle kunstenaars sal voorafgegaan word deur opkomende sterre soos No Swett Band, Soulsound Live Band en Elwira Standili terwyl seremoniemeester Uncle Cal sal verseker dat dié unieke aand lag-lag seepglad verloop.

Dr Victor & The Rasta Rebels

Dr Victor & The Rasta Rebels is reeds dekades lank ’n Afropop en reggae sensasie en het onder meer by Paul Simon en Gloria Estefan se konserte gespeel terwyl Paxton verlede jaar se Idols-kompetisie gewen het, haar eerste album binnekort vrystel en gekies is om voor die Sweedse koningin op te tree. Jak de Priester is ’n sanger, skrywer en TV-persoonlikheid met agt albums en ’n digbundel in sy koker. Seremoniemeester Uncle Cal is ’n DJ-legende wat enige gehoor met sy aweregse humor en uitspattige gedrag na groter glimlagte sal lei.

Jak de Priester

Vooraf speel No Swett, ’n dinamiese vierman-stemgroep, Soulsound Live wat ’n wye reeks genres op vyf instrumente vertolk asook Elwira Standili wie se heuninggoue stem al op onder meer Idols te hore was. Gaste kan boonop uitsien na ’n heerlike atmosfeer by die gemaklike Amfiteater met ’n pragtige uitsig oor die Bolandse valleie en berg. Verskeie bekostigbare kosstalletjies asook ’n biertent sal beskikbaar wees om in enige spys-en-drank behoeftes te voorsien. Die voorafprogram begin Vrydagaand om 18:30 en die hoofkunstenaars sal vanaf 20:00 die verhoog bestyg.

Kaartjies is vooraf beskikbaar by Computicket en die Taalmonument teen R100 vir volwassenes en R70 vir kinders onder 13 jaar. Dit sal ook op die dag self by die Amfiteater beskikbaar wees, en dan wel teen R120 vir volwassenes en R80 vir kinders onder 13 jaar. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Helaas word geen honde, vure, eie kos of drank toegelaat nie.

Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

Foto's: verskaf

The post Persvrystelling: Die berge gaan weergalm met die klanke van talent appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Taalmonument-koorfees beloof luisterryke sang uit die boonste rakke

$
0
0

’n Opwindende musikale eerste vind op 14 April plaas wanneer die Afrikaanse Taalmonument ’n koorfees in die Amfiteater op Paarlberg aanbied. Bekende en opkomende skool- en gemeenskapskore gaan hul beste note voorsit om individueel en gesamentlik gaste met ’n wye verskeidenheid musiek te vermaak.

“Een van die doelwitte van hierdie fees is om koormusiek te bevorder,” sê Christine Bam, mede-organiseerder en self ’n mezzosopraan en stemafrigter. “Daar is geen kompetisie of beoordeling gekoppel aan hierdie geleentheid nie. Dit is ’n lekker saamsing-fees waar kore kan kom sing, die dag geniet en kan netwerk met ander kore.”

Die dag bied ook ’n geleentheid aan kore om deur middel van kaartjieverkope fondse in te samel, terwyl dit verder vir leerders, hul gesinne en die wyer publiek ’n kans gee om hul liefde vir musiek met mekaar te deel. Die 15 kore is van Frank Pietersen Musieksentrum, Hoërskool Brackenfell, Hoërskool DF Malan, Hoërskool Jan van Riebeeck, HTS Drostdy, Hoërskool Namakwaland, Junior Campus Private School, Kensington Chorale Girls, LMS La Rochelle, Paul Roos Gimnasium, Protea Heights Academy, Saxonsea Primêr, Paarl Seunsskool, Hoërskool JG Meiring en die Oos-Distrik Gemeenskapskoor. Die amptelike opening is om 18:00 waarna al die kore individueel gaan optree voordat hulle afsluit met ’n massakoorwerk "Amavolovolo", soos verwerk deur Rudolf de Beer. Die hoop is dat hierdie fees ’n jaarlikse instelling gaan word.

Kaartjies, R120 vir volwassenes en R60 vir kinders onder 12 jaar oud, kan tot 11 April by die deelnemende skole gekoop word, waarna dit by Computicket en op die dag self by die Amfiteater se hekke beskikbaar sal wees. Die hekke open om 17:00 vir die publiek en talle stalletjies sal in besoekers se spys- en drankbehoeftes voorsien. Besoekers word versoek om warm kleding te bring. Helaas word geen vure, honde, eie kos of drank toegelaat nie. Toegang word beheer en voldoende parkering is beskikbaar.

Vir verdere inligting, skakel (021) 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

 

The post Persvrystelling: Taalmonument-koorfees beloof luisterryke sang uit die boonste rakke appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Neville Alexander-prestige-eerbewys – oproep om benoemings

$
0
0

Die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) nooi die publiek om geskikte kandidate te benoem vir hul derde Neville Alexander-prestige-eerbewyse ter waarde van R10 000 elk, geborg deur Naspers.

Volgens Michael Jonas, Direkteur van die ATM, is hierdie eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans en veeltaligheid te gee én om taalprojekte te bevorder. Alexander (1936–2012) was ’n bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk beywer het vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika.

"Die eerbewyse sal toegeken word aan iemand wat sy/haar tyd en lewe daaraan wy of gewy het om Afrikaans toeganklik te maak vir almal, asook ’n persoon wat Afrikaans as ’n medium gebruik om samehorigheid en nasiebou te bevorder,” sê Jonas.

Die wenners sal op 13 Oktober 2018 tydens die ATM se 43ste verjaardagvieringe en sy jaarlikse Neville Alexander-gesprek deur die Voorsitter van die Raad aangekondig word. Die wenners ontvang ’n sertifikaat en prysgeld ter waarde van R10 000 ten behoewe van relevante taalprojekte. Vorige wenners was die Fakulteit Onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk en Woorde Open Wêrelde.

’n Benoemingsvorm is by die ATM beskikbaar en die benoemings, vir individue of organisasies, moet die ATM voor of op 15 Junie 2018 bereik by Posbus 498, Paarl 7646, of per e-pos by admin@taalmuseum.co.za. Vir meer inligting, skakel 021 863 0543/4809 en sien www.taalmonument.co.za.

The post Persvrystelling: Neville Alexander-prestige-eerbewys – oproep om benoemings appeared first on LitNet.

Groen Galery: Poëtiese leesfees wink tussen graniet en olien

$
0
0

'n Uitstallingsbordjie om die aanvangspunt van die Groen Galery by die Taalmonument in die Paarl aan te dui (foto verskaf)

Taalmonument en LitNet fokus op 11 digters en 'n Vrystaatse flair.

In aanloop tot Internasionale Museumdag op 18 Mei is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) trots om kreatiewe kragte met die onafhanklike joernaal litnet.co.za saam te snoer om minder bekende digters se werk by die monument se Groen Galery uit te stal. Hierdie tydelike uitstalling plaas die kollig op 11 digters wie se werk in 2017 op LitNet se “Nuwe gedigte”-blad verskyn het. Toevallig het die meeste van hulle 'n verbintenis met die Vrystaat, dus eer die uitstalling die middelprovinsie (en geboorteplek van die skrywer JRR Tolkien) se bydrae tot skeppende skryfwerk.

Volgens Michael Jonas, die ATM se direkteur, is die instelling ʼn lewende monument waar daar gedurig ʼn interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is.

“Ons wil graag minder-bekende skrywers, musikante en digters die kans gee om hul werk aan ʼn groter gehoor bloot te stel. Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes, aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van talle Afrikaanssprekende Afrikane. Ons vertrou dat hierdie uitstalling dus in hul smaak sal val.”

Aangesien die tema van vanjaar se Museumdag “Hiperverbinde museums: nuwe benaderings, nuwe gehore” is, is dit gepas dat die ineengevlegte kuberruim waarin LitNet se gehoor reis, gekoppel word aan ʼn fisiese baken waar daar ʼn ander tipe interaksie tussen skrywers en lesers plaasvind.

Die 11 digters is Andre F van der Berg, Charles Marais, Dirk Hattingh, Hanta Henning, Heinrich Matthee, Hélène van Wyk, Jemima Meyer, Marthé McLoud, Pieter Verster, Rita Smit en Stanley Cierenberg, wat tesame ʼn wye verskeidenheid belangstellings, geskiedenisse en skryfstyle verteenwoordig.

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur, en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery, waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van verskillende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus.

LitNet is ’n wydgerekende, interaktiewe joernaal op die internet waar skrywers hul verhale, gedagtes, rubrieke, artikels en menings kan publiseer. Dit behels ook die LitNet-node vir geakkrediteerde akademiese skryfwerk in Afrikaans.

Die publiek kan die uitstalling van 1 Mei tot 31 Oktober 2018 in die Groen Galery besigtig. Die monument, wat ook die beginpunt van die Paarl se Boomroete is, is daagliks oop van 08:00 tot 17:00. Toegang is R30 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente en pensionarisse, en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar).

Oudiogidse in verskeie tale, asook gratis begeleide toere is beskikbaar en die monument bied ook ’n speelpark vir kinders, staproetes en ’n heerlike restaurant.

The post Groen Galery: Poëtiese leesfees wink tussen graniet en olien appeared first on LitNet.

Viewing all 123 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>